Jesus roep jou as Sy volgeling.

Volg My as my dissipel!

Johannes 21:19

Ons glo dat Jesus ons nie geroep het om net Christene te wees nie, maar eerder om totaal toegewyde volgelinge van Jesus te wees. Ons roeping is om mense te help om totaal toegewyde volgelinge van Jesus te word. Ons glo hierdie gebeur in verhoudings, waarin jy beweeg en groei van gas na vriend, vriend na familie, familie na volgeling.

Matteus 9:9-12.

Wat beteken dit om Jesus te volg?

Om te buig is een ding …
Om te volg, is iets heeltemal anders.
Om voor God te buig vra ’n kniebuiging …
Om Hom te volg, vra ’n totale koersverandering van jou ganse lewe.
Om voor God te buig is ’n verklaring …
Om Hom te volg, is ’n voltydse manier van leef.
Om voor die Here te buig vra ’n oomblik of twee van jou tyd …
Om Hom te volg, vra al jou tyd en jou voltydse lojaliteit.
Om voor God te buig sê jy dat jy Sy almag erken …
Om Hom te volg, sê dat jy Sy wil soek in elke gedagte, elke woord en elke keuse wat jy maak.
Om voor God te buig, is om te verklaar dat Hy presies dit is …
Hy is die Een wat jy as jou enigste God erken.
Om Hom te volg, is om elke dag jou kruis op te tel en agter Christus, as jou Here, aan te stap.
Om te buig, is om met jou lyf ’n belydenis te maak …
Om te volg is om met jou hele lewe ’n getuie te wees.
Om voor God te buig, is om voor en teenoor andere ’n publieke stelling te maak …
Om Hom te volg, is om jou belydenis elke dag te beliggaam.
Om voor God te buig, kom maklik …
Om Hom lewenslank te volg, vra toewyding, gehoorsaamheid en opoffering.
Jesus se grootste twee woorde is: ”Volg My.”

 

Doen dit dan; volg Hom, buig voor Hom, dien Hom, leef vir Hom, sterf vir Hom.

Stephan Joubert

Wat is dit?

Die Ritme is ons manier om as ‘n volgeling van Jesus te groei, om God met ons hele hart, siel, krag en verstand te volg. Na bestudering van die Evangelies, het ons Jesus se opdragte en lewenswandel in areas van die lewe ingedeel, sodat ons op ‘n baie praktiese manier totaal toegewyde volgelinge van Jesus kan wees. Ons weet dat die Heilige Gees met elkeen van ons besig is, om ons aan te moedig om aan te hou groei. Die Ritme gee vir ons ‘n manier om deur ons hele lewe met God te kan praat en te kan onderskei waarmee God besig is. Daar is 7 verskillende Ritmes waaroor ons in 7 weke met jou gaan gesels en ons glo hierdie 7 Ritmes gaan jou help om daarin te verdiep en jou help om te verstaan wat volgelingskap van Jesus is. Die Ritme van Jesus vorm deel van ons lidmaatskapproses, maar indien jy net bietjie dieper wil groei in jou volgelingskap, dan is jy ook welkom om dit by te woon.

Wanneer vind dit plaas?

Elke kwartaal word die 7 Ritmes oor 7 Dinsdagaande van
18:00 tot 19:30 deur Marius Malan in die Teater, by Kompas Gemeente aangebied.

Ons wil graag van jou hoor!

Besonderhede

90 Abraham Straat, Vanderbijlpark

(016) 004 0016

navrae@kg.org.za